Dag 97 van die grendelstaat
Ek het hierdie vreemde fassinasie met 'n trapsuutjies.
Ek kan die goedjies eenvoudig nie uitlos nie. Daai ronde uitpeul ogies wat so in die rondte draai en jou agter sy lyf dophou terwyl die ander een uitkomkans soek is onweerstaanbaar. Die feit dat hulle van kleur kan verander soos 'n wafferse politikus is die kersie op die koek.
Die groot verskil tussen 'n trapsuutjies en 'n politikus is dat die trapsuutjies eerlik is.
Ek het al soveel keer langs die pad gestop net om my lewe te waag en oor die pad te hardloop om 'n trapsuutjies se gat te red van 'n besliste Good Year probleem. En dit het my al telkemale in die moeilikheid gehad.
Daar was die een keer toe ek deur 'n verkeerskonstabel afgetrek is in die ou Oos Transvaal om te kyk of my voertuig se lisensie in orde is.
Hy leun so half by my venster in, reg in die einste spasie in wat dekades later my eie Corona spasie sou word! Vra oor die lisensie en my bestuurslisensie en loop loer na die skyfie en die registrasienommer en die ligte en bande en dies meer en eindig toe weer terug in my spasie. Ek het begin dink hy wil my saamnooi inry toe, toe hy sy hand so half rustig uitsteek om die sitplekgordel so 'n pluk of twee te gee, seker om homself te vergewis ek is inderdaad soos 'n renjaer ingegordel. Hy mompel met so 'n skalkse laggie dat ons moet gesels oor 'n geldjie vir middagete want hy is honger.
Dis met die wat my nuwe vriend, wat ek 'n halfuur vantevore in die middel van die pad opgetel het, besluit om nader te stap hier op my skouer waar hy agter my oor rondgehang het, en ook die konstabel te groet.
Ou Trappies en die konstabel se hand beland op dieselfde tyd op my sitplekgordel hier waar die ding oor my skouer verdwyn. Voor ou Trappies egter 'n woord kon uitkry spring daai konstabel 'n goeie vier voet reguit in die lug in. Ek dag hy het 'n vuurpyl ingesluk en per ongeluk gepoep. Hy gil dat die Sappi plantasies rondwarrel asof daar 'n ligte orkaan deur is. Trappies storm terug agter my oor in, desmoers geskrik vir hierdie gillende gevaarte wat hom nie wil groet nie. Ek sit net met 'n oop bek en probeer verstaan, want ek het nie besef wat hier op my skouer besig was om af te speel tot die skade reeds gedoen was nie.
Die konstabel eindig doer agter sy ampsmotor op en beloer my met sulke groot wit oge, alle sprake van sitplekgordels en geldjies vergete.
Ek vra "Nou wat nou meneer?"
"Eish wena!" gil hy, "darrie fokof deng hy es by jou skouer, ry man, ry man!!"
Toe ry ek maar.
Die ander keer was in die kerk. Toe het ek die klein mannetjie opgetel in die parkeerterrein, hom op my nek neergesit en besluit om hom na die diens op 'n veiliger plek vry te laat. Maar eers kon hy gerus maar albei sy rollende ogies opslaan na waar sy hulp vandaan kom. Net toe die dominee baie besadig afkondig dat ons moet staan om 'n Psalmpie te sing dat die antie hier agter my bewus word van die gedoente op my haarlyn en verward 'n paar gille laat loop.
"Nee hel," dink ek geskok, "ek is oortuig dis nie hoe die liedjie loop nie!"
Toe ek omkyk sien ek haar vinger wat woes beduie in my rigting. Eers wonder ek bevrees of ek van opgewondenheid dalk 'n poep laat val het wat nie sag uitgekom het nie. Toe beduie sy al die tyd na ou Trappe hier agter op my nek. Ons het toe maar later gesing dat die antie eers bedaar en die dominee my van die preekstoel af kan aanstaar oor sy leesbril. Ten minste het die gemeente iets gehad om oor te gesels.
Ek het nog gevry destyds, voor ek getroud geraak het, en naweke honderde kilometers ver Pretoria toe gery daarvoor. Verliefgeite is nie 'n man se maat nie. Soos hierdie dinge werk gewaar ek weer 'n verkleurmannetjie wat so wiggel waggel oor die pad probeer storm. Hulle stap mos so een tree vorentoe en 'n halwe tree agtertoe. Ek stop oudergewoonte en omdat ek so ruimhartig is, bied ek hom 'n geleentheid aan Pretoria toe.
Stop voor die meisie se huis en klim uit, baie opgewonde want nou gaan 'n man mos gesoen raak dat jou broekspype vanself oprol. Dit dien vermeld te word dat sy 'n heilige vrees gehad het vir verkleurmannetjies. Heilig vertel ek vir julle!
Sy storm my tegemoet by die voordeur, sluit die veiligheidshek met 'n spoed oop en hardloop in my arms in soos wat dit twee jong verliefdes betaam. Tot op daardie punt het alles klopdisselboom gevorder.
Toe haar arms hier agter om my nek wriemel besluit my gas om sy verskyning te maak en toe sy haar weer kry kyk sy en die verkleurmannetjie mekaar vierkantig in die oë hier oor my een skouer. Dit was die laaste wat dit goed gegaan het daardie naweek.
Sy gil soos 'n Lotto wenner en stamp my weg dat ek en Trappies tot teen die Renault 5 met sy afslaandak steier. Ek wou nog verduidelik toe moer sy 'n veiligheidshek so hard toe dat bouinspekteurs nagmerries kry. Haar ouers kom uitgestorm deur toe om te kyk wat gaan aan.
Hier staan ek half verslae teen my Franse Cassanova mobiel en wonder wat haar getref het, sy staan agter die traliedeur en gil en vervloek my verkleurmannetjie. Haar ouers staan oopmond en verstaar hulle aan die petalje. Die verkleurmannetjie sê eerder niks.
Toe besef ek waaroor dit gaan. Die instruksies volg flink, soos masjiengeweersarsies. Wat om met die arme reptieletjie te doen, wanneer, waar en hoeveel keer, herhaaldelik tot ek beter verstaan. Vinnig, die woorde en instruksies vloei ineen soos wyn. Ek storm die tuin in en verplaas my vriend liggies tot binne in 'n fantastiese bos waar hy 'n buffet spyskaart kon deurwerk vir die res van sy lewe. Baie in my skik hardloop ek terug deur toe - dis mos nou verby! Die gevaar is weg!
Nee! Dit werk nie so nie ou pappie. Eers moet daar nederig verskoning gemaak word. Een keer is nie genoeg om vir hierdie draaioog gevaarte op te maak nie. Daarna moes ek maar eers in die kar sit tot sy minder moerig was. Toe moes ek in die rondte draai en my verdomde hemp uittrek sodat sy kon seker maak hy is nie meer by my nie. Eers toe het die poorte vir my geopen en kon ek binnegaan.
Dit was maar 'n handskud naweek gewees, vrouens vergeet moeilik.
Ons kon darem later lekker lag daaroor.
Riaan Coetzee
Kopiereg
7 Julie 2020

Comments