Dag 59 van die grendelstaat
Julle mag drink, solank julle net nie rook nie.
Julle mag net nie op die strand drink nie. Ook nie op julle branderplanke nie. Jy mag nie eers rook as jy warm is nie. Selfs braaivleisvure mag nie meer rook nie. Jy mag beslis nie rook by padblokkades nie. Maar jy mag kwitansies vir jou onwettige sigarette hê.
Daar is 'n ongure grappie wat sterk hieraan herinner. Jannie se meisie kom kuier en die twee sit af na sy kamer toe om "mekaar se temperatuur te loop neem". Mens moet mos maar gereeld toets vir veiligheid....
Na 'n rukkie kom sy pa verby en klop aan Jannie se deur.
"Jannie, rook julle daar binne, vir wat is hierdie deur gesluit?" vra hy.
"Nee Pa," antwoord Jannie. "Ek neem net Sannie se temperatuur en sy toets die termometer...."
"O nee dan is dit goed," seg sy Pa.
"Solank julle net nie rook nie "
Sela.
Jy mag gelukkig darem jou hare sny! In jou kombuis, met jou eie snoeiskêr, en hopelik 'n spieël want almal weet jy gaan die eindresultaat afneem en op Facebook pos. En dis onnodig om ons banger te maak as wat ons reeds is.
O en moenie rook terwyl jy jou eie hare sny nie. Drink eerder. Om jou hand minder te laat bewe. En doen dit alleen, want die regering het besluit ons het nog nie nodig om met ons mense te kuier nie. Ons moet eers nog meer verlang en hulle wil dit in ons oë kan sien.
Dit help nie regtig dat ons nou weer drank mag koop nie. Meeste van ons het fokol geld oor vir drank nie en ons brou so by so vlot pynappelbier teen die tyd. Dis nie te onaangenaam as jy dit 'n paar keer deur jou masker sif om seker te maak jy kry nie per ongeluk 'n gesuipte vrugtevlieg in nie.
Was net jou masker voor jy met hom winkel toe gaan vir inkopies want as 'n jy per toeval by 'n arrestasiebeampte verbykarring wat besig is om 'n hoogs gevaarlike buite-uurse drawwer te skop en te donnor gaan hy dadelik weet jy is 'n verdomde krimineel. Daai pynappelreuk gaan jou kriminele geskiedenis dadelik weggee. Jy gaan waarskynlik effe gesuip ook wees nadat jy die goed vir 'n uur lank ingeasem het so met 'n bietjie geluk val jy sommer self in die vangwa in.
Was jou masker.
Al daai tannies met die dik maskara en leeuvel tierterte is ook verplig om steeds by hulle huise op hulle selfone te kuier. Hulle mag dit nog nie in die gimnasium gaan doen nie. Gimnasiums is so goed soos strande. Dodelik. Behalwe net dat die virus waarskynlik homself vasgeteken het vir 'n 5 jaar kontrak so nou het hy nog moerse spiere ook bygekry. Seker om jou gehekelde masker te fnuik.
Van maskers gepraat. Dis steeds verpligtend. Na 'n paar liter pynappelbier doen ek aan die hand dat jy hom in die toilet ook dra want as daai goed eers in jou maag begin gis raak dinge lelik. Selfs die virus sal hoendervleis kry.
Jy mag nie kerk toe gaan nie. Dis so goed jy vat jou kinders strand toe. Gevaarlik en almal weet dis die regte ding as regerings vir mense vertel hoe en waar hulle hulle geloofsoortuigings mag uitleef of hoe. Dis mos vir ons eie veiligheid onthou.
Ons moet net versigtig wees om nie te oorstelp te raak van vreugde oor alkohol nie. Dis 'n slegte gewoonte om iemand wat jou misbruik en vertrap te bedank as hy besluit om dit voortaan nie meer op naweke te doen nie, slegs weeksdae.
En, na alles gesê is, wag ons vir mevrou Eerste Minister om vir ons te vertel wat van dit vanaand gesê is, regtig gaan gebeur.
Sit jou masker oor jou oë Suid Afrika, sodat niemand kan sien ons huil nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
24 Mei 2020
Kopiereg
24 Mei 2020
Comments